Stille Water, Diepe Grond
YouTube

Midde in die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders, het Amber Heard se Youtube pleidooi teen stilte, aan my kom ruk.

Heard het vroeër vanjaar opslae gemaak na sy haar man (en almal se gunsteling seerower) Johnny Depp van mishandeling beskuldig het. Aanvanklik is sy openlik verneder en haar verlede oopgekrap in 'n naarstige poging om die mishandeling haar skuld te maak. Die enigste ware slagoffer is mos 'n vlekkelose, weerlose slagoffer, of hoe? Verder, as die aantygings nie strook met die persepsie wat ons van die geweldenaar het nie, besluit ons mos sommer die slagoffer vertel leuens, ongeag (fotografiese) bewyse.

Dis Hollywood, maar dis ook Suid-Afrika. Mishandeling is ongelukkig iets wat in ons samelewing verweef is, en ek reken almal van ons weet van iemand wat al hierdeur geraak is. Ek dink ook ons almal maak onsself skuldig aan die vinnige verdoeming van slagoffers. So help ons slagoffers om te dink dat hulle eerder heeltemal moet stilbly.

Hoekom bly ons stil, en hoekom maak ons diegene wat wil praat, met ons veroordeling stil? Dit lyk of die goue draad deur alle kulture om mishandeling bloot te stel, totaal ontbreek. Ekself het besluit om hierdie artikel in Afrikaans te skryf, met die hoop dat ek in my eie kultuurgroep mense die moed kan gee om na vore te kom en te praat. Heard is reg: Jou stem is jou magtigste wapen, so praat!

Elke jaar word 16 dae gebruik om ons aktivisme teen geweld teen vroue en kinders op die spits te dryf. Elke jaar is daar klagtes dat die ander 340 dae van die jaar in stilte verbygaan. Die klagte is legitiem en die klagte is teen elkeen van ons wat vroue verdoem wat die moed het om op te staan en te praat oor die fisiese, emosionele, verbale of ander mishandeling waaraan hulle blootgestel is. Die klagte is teen elkeen van ons wat "eers bewyse wil sien" en "nie gaan oordeel nie" en ook "nie in ander mense se persoonlike lewens betrokke gaan raak nie". Die klagte is dat ons deel is van die probleem dat daar geen veilige heenkome vir slagoffers is nie.

Kom ons word eerder deel van die oplossing, en deel die stem van vroue soos Heard regoor die wêreld. Gebruik jou Facebook-profiel vir 'n goeie doel en ontlok hierdie debat, in elke taal wat jy magtig is. Wys dat jy so 'n veilige hawe kan skep vir slagoffers om na vore te tree, en sodoende hul geweldenaar se mag te breek. Moenie stilbly nie, want die stilte laat die geweld gedy. Raak betrokke en moenie wegkyk nie.

Ons het almal 'n storie, ons almal ken iemand wat hierdeur is. Dit beteken ook ons almal het die vermoë om deur betrokkenheid 'n verskil in iemand anders se lewe te maak. Soos Heard uitwys het die die sterk vroue om haar, haar die moed gegee om te praat. Wees daardie sterk vrou vir iemand anders.

Close

What's Hot